Tel: 016 423 1136   Faks: 086 508 6180   Epos: hoofrissie@mweb.co.za

Raak betrokke

Rissies gee om...

By Laerskool Risiville strewe ons om soos Jesus om te gee.  Omgee is nie net ‘n gevoel nie,dit is ‘n aksie.  Dit is die raaksien van ons Rissie maatjies, families en gemeenskap se nood.  Omgee is om aktief hande te vat, die nood te verlig, ‘n verskil te maak en hoop te gee.
Omgee gaan nie net oor die verligting van materiële nood nie, maar dit gaan oor die aanspreek van behoefte.  Met die toenemende werkloosheidsyfer en gepaardgaande sosiale probleme, is daar Rissie maatjies en hulle gesinne wat finansieël en emosioneel swaarkry.
Red Pepper Kids is ‘n nie-winsgewende organisasie wat die voedingskema van Laerskool Risiville bestuur. Ons voorsien op ‘n daaglikse basis Rissie maatjies van kos by die skool, asook maandelikse kospakkies aan gesinne wat werklik swaar kry.  Ons voorsien ook skryfbehoeftes en skoolklere aan Rissie maatjies waar die nood druk. Hierdie projek is egter meer as net die voorsiening van materiële nood.  Projekte word geloods om fondse te genereer ten einde ook mediese behoeftes en emosionele behoeftes van ons Rissie maatjies en ons gemeenskap aan te spreek.  

Ons is so trots op ons Rissie maatjies en Rissie ouers wat in 2017 binne twee weke fondse ingesamel het vir ‘n Rissie maatjie wat met kanker gediagnoseer was.  Hierdie fondse het haar mamma in staat gestel om vir 8 maande te fokus op die versorging van ons maatjie.  Sy is nou in remissie en is ‘n getuienis van God se genade en seën.  Hoe wonderlik was dit nie dat God ons Rissies gebruik het om deel te wees van hierdie wonderwerk.
Divider 1
Deur die werk van ons beraders (maatskaplike werker, berader en pastorale berader) het ons al vele Rissie maatjies en ouers gehelp om die seer in hulle hartjies aan te raak en seker te maak dat ons Rissie maatjies vaardighede aanleer om weer hoopvol te wees.

As Rissies is ons egter ook bewus van die nood in ons gemeenskap. Ons Red Pepper Kids Junior Squad loots projekte ten einde ‘n verskil te maak en hoop te gee.  So versamel ons maandeliks toiletware wat gegee kan word waar daar ‘n behoefte is.  Tydens Paasfees in 2018 het ons ‘n projek geloods om skoene te versamel sodat ons maatjies se voete warm kan wees in die wintermaande.  Daar was skoene geskenk aan ons Rissie maatjies wat dit nodig het, maar ook aan ander nie-winsgewende organisasies wat dit kan gee aan minder bevoorregte gemeenskappe. So reik ons uit en besoek ander projekte en vat ons hande om ‘n verskil te maak.
Divider 2
Kontak gerus die skool om uit te vind oor hoe jy kan betrokke raak by ons omgee projekte.  Ons benodig jou ondersteuning en kan jou tyd, fondse, vaardighede en skenking van klere en skryfbehoeftes ‘n verskil maak.

Dit is ons wens dat Rissies sal aanhou strewe om soos Jesus om te gee vir mekaar, ons skool en ons gemeenskap.  Mag ons omgee altyd Jesus-liefde demonstreer want volgens Effesiërs 3:20 is ons tot soveel meer in staat deur Hom wat ons krag gee.  Laat God ons gebruik waar Hy ons nodig het.

Vind gerus meer uit oor Red Pepper Kids deur op hul logo hier onder te kliek!
Red Pepper Kids Logo
Kontak Ons
Image
T | (016) 423 1136  F | 086 508 6180  E | info@laerskoolrisiville.co.za  A | H/v Aidastr & Marielaan, Risiville, Vereeniging, Gauteng
divider
Follow us on Facebook     Volg ons op Twitter     Volg ons op Google Plus