Tel: 016 423 1136   Faks: 086 508 6180   Epos: hoofrissie@mweb.co.za

Skaak
Skaak kan ‘n baie belangrike rol speel in u kind se ontwikkeling. Dit is ‘n welbekende feit dat skaak konsentrasie, analitise denke, probleemoplossing en redenasievermoë ontwikkel, wat tot beter skolastiese prestasies kan lei. Verder is skaak ‘n sport wat van speenoud tot beenoud gespeel kan word deur enige persoon!

Ons nooi dus leerders van Graad R tot 7 om by ons skaakoefeninge in te skakel. Ons speel skaak dwarsdeur die jaar, dus kan leerders aan enige ander sport deelneem en dan voor of ná daardie seisoen weer by die skaak inval.

In 2019 beoog ons om beginnersklasse, asook gevorderde klasse vir ons gevestigde spelers aan te bied. Afhangende van die belangstelling, sal oefentye en lokale weekliks in die omsendbrief gereël word.

Die skool maak verder ook gebruik van buite-afrigting en gaan in 2019 ook slypskole by ons aanbied deur SA-afrigter, Justin Wilken.
Laerskool Risiville het in 2018 vir die eerste keer ‘n volwaardige o/9 gemengde, o/11 gemengde en o/13 dogters- en seunspan ingeskryf by die D7-toernooi, waar die dogterspan silwermedaljes gewen het. Verder het ons Super 8-span ons ook baie trots gemaak in Lichtenburg.

Al ons skaakspelers word aangemoedig om aan die Sedibeng Skaaktoernooie deel te neem, wat aan hulle die geleentheid bied om as Sedibengspeler aan die SA Junior-toernooi aan die einde van elke jaar deel te neem.

Ligaspanne word reeds in die eerste kwartaal gekies. Die Super 8-toernooi vind op 13-14 September 2019 in Brits plaas.

Ons beplan om ‘n geakkrediteerde toernooi by ons skool aan te bied in 2019 asook ‘n skaak pretdag vir leerders en ouers. Vorms vir voornemende spelers sal aan die begin van die skooljaar uitgedeel word. Vir enige navrae is u welkom om mev. Antoinette Matthee te kontak.

Maak die regte skuif en laat u kind deel word van ons skaakfamilie!
Kontak Ons
Image
T | (016) 423 1136  F | 086 508 6180  E | info@laerskoolrisiville.co.za  A | H/v Aidastr & Marielaan, Risiville, Vereeniging, Gauteng
divider
Follow us on Facebook     Volg ons op Twitter     Volg ons op Google Plus